Rooivleis nou goedkoopste nóg’

Rooivleis nou goedkoopste nóg’

geplaas op 08:39 (GMT+2) Wo., 24 Mei 2017

Die Globale Voedselindeks toon rooivleispryse is in reële terme vandag internasionaal laer as in 1960.

Rooivleis nou goedkoopste nóg’

Deur Johan Coetsee
23 Mei 2017

Die Globale Voedselindeks toon rooivleispryse is in reële terme vandag internasionaal laer as in 1960.  

Rooivleispryse is in reële terme tans die laagste nóg,” het dr. Dirk Troskie, direkteur vir sakebeplanning en -strategie by die Wes-Kaapse departement van landbou, tydens ’n konferensie van die Rooivleis-Abattoirvereniging (RVAV), wat op die Spier-landgoed buite Stellenbosch plaasgevind het, gesê.

“Volgens die Globale Voedselindeks is rooivleispryse in reële terme vandag internasionaal laer as in 1960. Boere is vasgevang in ’n finansiële prysknyptangsituasie wat dinge plaaslik bemoeilik.”

Internasionale neiging
 Die vraag is of dié internasionale neiging van ’n dalende rooivleisprys in reële terme gaan aanhou en of ’n draaipunt bereik sal word – veral in die lig van ’n stygende wêreldbevolking, verstedeliking, ekonomiese groei en voedselsekuriteit.

Miljoene mense het nie daagliks genoeg kos om te eet nie, miljoene ander is vetsugtig. Tussen die sestigerjare en die negentigjare het oeste wêreldwyd jaarliksmet sowat 2% gestyg. Vandag styg oesvolumes met sowat ’n halwe persent per jaar. “Dit dui daarop dat ons besig is om die voedselresies te verloor,” het Troskie gesê.

Arm mense eet minder vleis, maar namate meer mense wêreldwyd ryker word, styg die verbruik van vleis. Daarmee saam styg die vraag na voergrane – dit neem 9kg mielies om 1kg rooivleis te produseer.

Tegnologie
“Vinnig ontwikkelende tegnologie bied moontlikhede om mee tred te hou. Landbou gaan in die toekoms al meer op nuwe tegnologie staatmaak – ook wat klimaatsverandering betref. Niemand weet wat die implikasies daarvan is nie,” meen hy.

Verskillende aspekte wat uitstekende geleenthede in landbou in die Wes-Kaap skep, is geidentifiseer, waaronder die uitbouing van die halaal-merk en uitvoere na China en Angola.

Daarvoor moet die plaaslike produksiekapasiteit ontwikkel word, en produsente moet hul vergewis van wat halaal behels en moontlikhede wat dit bied, het Troskie gesê.


Deel met vriende